‘SA se voedselmandjie is leeg’-NETWERK24

with No Comments

‘SA se voedselmandjie is leeg’

Frederick du Toit vroeg in November op een van sy mielielande. Foto: Elsje Waldeck

Suid-Afrika se voedselmandjie is leeg.

Volgens Louw Steytler, voorsitter van GraanSA, voorsien die gebied om Bultfontein, Wesselsbron en Hoopstad in die Vrystaat die meeste vir die land se voedselmandjie en nog net 3% van dié boere hier kon plant.

“Die situasie is kommerwekkend,” sê Steytler.

“Ons het dringend milde reën nodig, want elke liewe Suid-Afrikaner gaan binnekort dié droogte aan sy bas voel.”

Die planttyd vir mielies verstryk vandeesweek en met so min boere wat nog nie geplant het nie, lyk die toekoms van voedselsekerheid donker.

“’n Mens kan dit nog so ’n bietjie rek tot vroeg Januarie in die westelike dele, maar die opbrengspotensiaal van gewasse wat so laat geplant word, is dikwels laer as gewoonlik.”

Boeta du Toit, voorsitter van Agri Noordwes, sê nog net sowat 20% van boere het in dié provinsie geplant.

“En as ons nie opvolgreën kry nie, loop die meeste van dié gewasse ’n hoë risiko,” sê hy.

“Die boere wat nou al geplant het, was glad nie onverskillig nie, want daar was nog ’n bietjie grondvog. Maar opvolgreën is nou broodnodig, anders is dit ’n groot misoes.”

Ons het dringend milde reën nodig, want elke liewe Suid-Afrikaner gaan binnekort dié droogte aan sy bas voel.
Louw Steydtler

Frederick du Toit, ’n mielie- en sonneblomboer van Bultfontein, was altyd positief, maar raak by die dag meer moedeloos.

“Ons kon nog niks plant nie, want ons het nog nie weer reën gehad nie,” sê hy.

Hy sê die moontlikheid is nog daar dat hy tot 10 Januarie kan plant.

“Ek wil dit nie later as dit uitstel nie, want in April kan die vroeë ryp ons weer onkant vang.”

Hy is nog “semi-positief”, maar verloor by die dag moed.

Gerrie Rossouw, saai- en beesboer naby Bothaville, sê hulle het Maandag ophou mielies plant omdat dit te droog is.

“Ons moet nou maar eers ’n bietjie staan, want die grond is te droog. Ons kan nie meer plant nie.”

Een geluk, volgens Rossouw, is dat die mielie- en sonneblompryse baie hoog is.

“So as jy ietsie het om te gee, sal jy darem ’n paar rand kan kry.”

Mbavhi Maliage van die weerkantoor in Pretoria sê geïsoleerde reënbuie word vir die Noordwes, Vrystaat, KwaZulu-Natal en Noord-Kaap voorspel.

Oor die naweek word sowat 60%-kans op reën in KwaZulu-Natal voorspel en net 30%-kans vir die Noordwes en Vrystaat.

Geen reën word oor die naweek vir die Noord-Kaap voorspel nie